Prediker 10
Afrikaans Die Heilige Bybel · 20 verses
- 1 Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; 'n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer.
- 2 Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van 'n dwaas is na links.
- 3 Ja, ook as die dwaas op die weg wandel, ontbreek sy verstand; en hy sê aan elkeen dat hy 'n dwaas is.
- 4 As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute.
- 5 Daar is 'n verkeerdheid wat ek onder die son gesien het, 'n dwaling wat van die maghebber uitgaan:
- 6 die dwaasheid word op groot hoogtes gestel, en die rykes moet in die vernedering sit.
- 7 Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop.
- 8 Wie 'n kuil grawe, kan daarin val; en een wat 'n muur afbreek, 'n slang kan hom byt.
- 9 Wie klippe uitbreek, kan hom daarmee seermaak; wie hout klowe, kan daardeur in gevaar kom.
- 10 As die yster stomp geword het, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy die kragte meer inspan; maar wysheid is voordelig om iets te laat beantwoord.
- 11 As die slang byt voor die beswering, baat die besweerder nie.
- 12 Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself.
- 13 Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy mond is skadelike onverstandigheid.
- 14 En die dwaas gebruik baie woorde; maar die mens weet nie wat daar sal gebeur nie; en wat ná hom sal wees, wie kan hom dit te kenne gee?
- 15 Die inspanning van die dwaas vermoei hom, omdat hy nie eens weet om na die stad te gaan nie.
- 16 Wee jou, o land, as jou koning 'n kind is, en as jou vorste in die môre vroeg maaltyd hou.
- 17 Gelukkig is jy, o land, as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie.
- 18 Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis.
- 19 Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles.
- 20 Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die gevleueldes die woord te kenne gee.