Eségiël 19
  • 1 Verder, hef jy 'n klaaglied aan oor die vorste van Israel,
  • 2 en sê: Wat was jou moeder? 'n Leeuin: tussen die leeus het sy gelê, onder die jong leeus het sy haar kleintjies grootgemaak.
  • 3 En sy het een van haar kleintjies opgekweek, 'n jong leeu het hy geword; en hy het geleer om prooi te verskeur, hy het mense geëet.
  • 4 En die nasies het van hom gehoor; in hulle vangkuil is hy gevang, en hulle het hom met hake na Egipteland gebring.
  • 5 En toe sy sien dat sy teleurgestel is, haar hoop verlore, het sy 'n ander een van haar kleintjies geneem, hom 'n jong leeu gemaak.
  • 6 En hy het rondgeloop onder die leeus, het 'n jong leeu geword en geleer om prooi te verskeur; hy het mense geëet.
  • 7 Hy het hulle weduwees beken en hulle stede verwoes; ja, die land en sy volheid was verskrik vanweë die geluid van sy gebrul.
  • 8 Toe het die nasies rondom uit die lande hulle teen hom opgestel en hul net oor hom uitgesprei; in hulle vangkuil is hy gevang.
  • 9 En hulle het hom in 'n hok gesit aan hake en hom na die koning van Babel gebring; hulle het hom in vestings gebring, dat sy stem nie meer gehoor sou word op die berge van Israel nie.
  • 10 Jou moeder was soos 'n wingerdstok in jou rustige tyd; by waters was dit geplant; dit was vrugbaar en vol ranke vanweë die baie waters.
  • 11 En dit het sterk takke gekry om as septers vir heersers te dien, en sy top was hoog tussen die digte takke in; en dit het hom vertoon in sy hoogte, in die menigte van sy ranke.
  • 12 Maar dit is in grimmigheid uitgeruk, teen die grond gegooi, en die oostewind het sy vrugte laat verdroog; hulle is afgeruk en het verdroog; sy sterk tak--die vuur het dit verteer.
  • 13 En nou is dit geplant in die woestyn, in 'n dor en dorstige land.
  • 14 En vuur het uitgegaan uit sy tak vol lote, dit het sy vrugte verteer; en geen sterk tak is daarin as septer om te heers nie. 'n Klaaglied is dit, en 'n klaaglied het dit geword.