Hoséa 10
Afrikaans Die Heilige Bybel · 15 verses
- 1 Israel was 'n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.
- 2 Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes.
- 3 Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die HERE nie gevrees nie; en die koning--wat sou hy vir ons kan doen?
- 4 Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit--en soos 'n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye.
- 5 Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is.
- 6 Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.
- 7 Samaría word vernietig, sy koning is soos 'n spaander op die water.
- 8 En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!
- 9 Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle--moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie?
- 10 Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede.
- 11 Maar Efraim is 'n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep.
- 12 Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.
- 13 Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.
- 14 Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word net soos Salman Bet-Arbel verwoes het in die dag van oorlog: moeders is met kinders en al verpletter.
- 15 Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.