Jeremia 47
Afrikaans Die Heilige Bybel · 7 verses
- 1 Die woord van die HERE wat aangaande die Filistyne tot die profeet Jeremia gekom het voordat Farao Gasa verslaan het.
- 2 So sê die HERE: Kyk, die waters rys op uit die noorde en hulle sal 'n oorlopende stroom word; ja, hulle oorstroom die land en sy volheid, die stad en die wat daarin woon; en die mense sal skreeu, en al die inwoners van die land sal huil,
- 3 weens die stampgeluid van sy perde se pote, weens die geraas van sy waens, die gedreun van sy wiele. Die vaders kyk nie om na die kinders nie--so slap is die hande--
- 4 weens die dag wat kom om al die Filistyne tot niet te maak, om van Tirus en Sidon die laaste een uit te roei wat kan help; want die HERE maak die Filistyne tot niet, die oorblyfsel van die eiland Kaftor.
- 5 'n Kaal plek het op Gasa gekom; Askelon is vernietig, die oorblyfsel van hulle dal. Hoe lank sal jy jou stukkend kerwe?
- 6 Wee, swaard van die HERE, hoe lank sal jy geen rus hê nie? Keer terug in jou skede, rus en wees stil.
- 7 Hoe sou dit rus hê, terwyl die HERE daaraan bevel gegee het teen Askelon en teen die seekus? Daar het Hy dit bestel.