Johannes 9
Afrikaans Die Heilige Bybel · 41 verses
- 1 En toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af.
- 2 En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?
- 3 Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
- 4 Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.
- 5 So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.
- 6 En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man
- 7 en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.
- 8 Die bure dan en die wat hom vroeër gesien het dat hy blind was, sê toe: Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?
- 9 Ander sê: Dit is hy. Ander weer: Hy lyk na hom. Hy antwoord: Dit is ek.
- 10 Hulle sê vir hom: Hoe is jou oë geopen?
- 11 Hy antwoord en sê: Die man wat Jesus genoem word, het klei gemaak en op my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na die badwater Silóam en was jou. En ek het gegaan en my gewas en ek sien.
- 12 En hulle sê vir hom: Waar is Hy? Hy antwoord: Ek weet nie.
- 13 Hulle bring hom na die Fariseërs--die man wat vroeër blind was.
- 14 En dit was sabbat toe Jesus die klei gemaak en sy oë geopen het.
- 15 Die Fariseërs vra hom toe weer hoe hy siende geword het. En hy antwoord hulle: Hy het klei op my oë gesit, en ek het my gewas en ek sien.
- 16 En sommige van die Fariseërs sê: Hierdie man kom nie van God nie, omdat Hy die sabbat nie hou nie. Ander sê: Hoe kan 'n sondige mens sulke tekens doen? En daar was verdeeldheid onder hulle.
- 17 Weer sê hulle vir die blinde man: Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is 'n profeet.
- 18 En die Jode het dit nie van hom geglo dat hy blind was en siende geword het nie, totdat hulle die ouers geroep het van hom wat siende geword het.
- 19 En hulle vra hul en sê: Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is? Hoe sien hy dan nou?
- 20 Sy ouers antwoord hulle en sê: Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is;
- 21 maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie. Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat.
- 22 Dit het sy ouers gesê omdat hulle bang was vir die Jode; want die Jode het al ooreengekom dat as iemand Hom as die Christus bely, hy uit die sinagoge geban sou word.
- 23 Daarom het sy ouers gesê: Hy is oud genoeg, vra hom.
- 24 Hulle roep toe vir die tweede keer die man wat blind was, en sê vir hom: Gee aan God die eer; ons weet dat hierdie man 'n sondaar is.
- 25 En hy antwoord en sê: Of Hy 'n sondaar is, weet ek nie. Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.
- 26 En hulle sê weer vir hom: Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen?
- 27 Hy antwoord hulle: Ek het julle dit alreeds gesê, en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?
- 28 Hulle skel hom toe uit en sê: Jy is 'n dissipel van daardie man, maar ons is dissipels van Moses.
- 29 Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie van waar Hy is nie.
- 30 Die man antwoord en sê vir hulle: Hierin is tog iets wonderliks dat julle nie weet van waar Hy is nie, en Hy het my oë geopen!
- 31 En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy.
- 32 Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van 'n blindgebore mens geopen het nie.
- 33 As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.
- 34 Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons? En hulle het hom uitgeban.
- 35 Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het; en toe Hy hom kry, sê Hy vir hom: Glo jy in die Seun van God?
- 36 Hy antwoord en sê: Wie is Hy, Here, dat ek in Hom kan glo?
- 37 En Jesus sê vir hom: Jy het Hom gesien; en Hy wat met jou spreek, dit is Hy.
- 38 Toe sê hy: Ek glo, Here! En hy het Hom aanbid.
- 39 En Jesus sê: Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.
- 40 En dié van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind?
- 41 Jesus antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.