Hooglied 6
  • 1 Waar het u beminde heengegaan, o skoonste onder die vroue? Waarheen het u beminde hom gewend, dat ons hom saam met u kan soek?
  • 2 My beminde het afgeloop na sy tuin, na die balsembeddings om hom te vermaak in die tuine en om lelies te versamel.
  • 3 Ek is my beminde s'n, en my beminde is myne--hy wat herder is onder die lelies.
  • 4 Mooi is u, my vriendin, soos Tirsa, lieflik soos Jerusalem, verskriklik soos slagordes met vaandels.
  • 5 Draai u oë van my af weg, want hulle verskrik my; u hare is soos 'n kudde bokke wat van Gílead afgolf.
  • 6 U tande is soos 'n kudde skaapooie wat van die drinkplek af opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie.
  • 7 U slape is soos 'n granaatskyf deur u sluier heen.
  • 8 Daar is sestig koninginne en tagtig byvroue en jonkvroue sonder getal.
  • 9 Een, dié is my duif, my volmaakte, die enigste vir haar moeder; sy is die uitverkorene vir die een wat haar gebaar het. Die dogters het haar gesien en haar gelukkig geprys, die koninginne en die byvroue, en haar geroem:
  • 10 Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels?
  • 11 Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom.
  • 12 Voordat ek dit geweet het, het my verlange my verplaas op die waens van my edele volk.
  • 13 Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien. Wat sien julle aan die Sulammitiese? Iets soos die koordans van Mahanáim.