1 Korintiërs 12
  • 1 En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.
  • 2 Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is.
  • 3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus 'n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
  • 4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
  • 5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
  • 6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.
  • 7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
  • 8 Want aan die een word deur die Gees 'n woord van wysheid gegee, en aan die ander 'n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
  • 9 aan 'n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
  • 10 aan 'n ander werkinge van kragte, aan 'n ander profesie, aan 'n ander onderskeiding van die geeste, aan 'n ander allerhande tale, aan 'n ander uitleg van tale.
  • 11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
  • 12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.
  • 13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
  • 14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
  • 15 As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie--behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
  • 16 En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie--behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
  • 17 As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees?
  • 18 Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het.
  • 19 As almal een lid was, waar sou die liggaam wees?
  • 20 Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.
  • 21 En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.
  • 22 Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk;
  • 23 en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid,
  • 24 terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee,
  • 25 sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.
  • 26 En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.
  • 27 Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.
  • 28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.
  • 29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie?
  • 30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?
  • 31 Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle 'n nog uitnemender weg.