1 Korintiërs 16
Afrikaans Die Heilige Bybel · 24 verses
- 1 Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.
- 2 Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.
- 3 En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.
- 4 En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.
- 5 Maar ek sal na julle kom nadat ek deur Macedónië gereis het, want ek gaan deur Macedónië.
- 6 En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis.
- 7 Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om 'n tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.
- 8 Maar ek sal in Éfese bly tot pinkster toe.
- 9 Want 'n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.
- 10 En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek.
- 11 Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.
- 12 Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is.
- 13 Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
- 14 Laat alles by julle in liefde geskied.
- 15 En ek versoek julle, broeders--julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het--
- 16 dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei.
- 17 En ek verbly my oor die aankoms van Stéfanas en Fortunátus en Acháïcus, omdat hulle my gemis aan julle vergoed het.
- 18 Want hulle het my gees verkwik en julle s'n ook. Erken sulke manne dan.
- 19 Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.
- 20 Al die broeders groet julle. Groet mekaar met 'n heilige kus.
- 21 Die groete van Paulus, met my eie hand.
- 22 As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom 'n vervloeking wees! Maranáta!
- 23 Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!
- 24 My liefde met julle almal in Christus Jesus! Amen.