2 Timoteus 3
  • 1 Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.
  • 2 Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,
  • 3 sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,
  • 4 verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;
  • 5 mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
  • 6 Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word,
  • 7 wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.
  • 8 En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof.
  • 9 Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos ook dié van daardie manne geword het.
  • 10 Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid,
  • 11 vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antiochíë, in Ikónium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos.
  • 12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.
  • 13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
  • 14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,
  • 15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
  • 16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
  • 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.