Efesiërs 3
Afrikaans Die Heilige Bybel · 21 verses
- 1 Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is--
- 2 as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle,
- 3 dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het;
- 4 waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan,
- 5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik
- 6 dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie
- 7 waarvan ek 'n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag.
- 8 Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig,
- 9 en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus,
- 10 sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word,
- 11 volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here,
- 12 in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.
- 13 Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van julle nie. Dit is julle eer.
- 14 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus,
- 15 van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang,
- 16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens,
- 17 sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,
- 18 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is,
- 19 en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.
- 20 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,
- 21 aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.