Efesiërs 5
  • 1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders;
  • 2 en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.
  • 3 Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam;
  • 4 ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.
  • 5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat 'n afgodedienaar is, 'n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
  • 6 Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
  • 7 Wees dan nie hulle deelgenote nie.
  • 8 Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here--wandel soos kinders van die lig.
  • 9 Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.
  • 10 En beproef wat die Here welbehaaglik is;
  • 11 en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.
  • 12 Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem.
  • 13 Maar al die dinge wat deur die lig bestraf word, word openbaar; want alles wat openbaar word, is lig.
  • 14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.
  • 15 Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;
  • 16 en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.
  • 17 Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.
  • 18 Moenie dronk word van wyn nie--daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.
  • 19 Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here,
  • 20 terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus,
  • 21 en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God.
  • 22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
  • 23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
  • 24 Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.
  • 25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
  • 26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,
  • 27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
  • 28 So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;
  • 29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.
  • 30 Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
  • 31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.
  • 32 Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.
  • 33 In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.