Jesaja 26
  • 1 In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: 'n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse.
  • 2 Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!
  • 3 U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.
  • 4 Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is 'n ewige rots.
  • 5 Want Hy het die bewoners van die hoogte neergewerp, die steil vesting; Hy het dit afgegooi, afgegooi tot by die grond, dit laat kom tot in die stof.
  • 6 Die voet vertrap dit, die voete van die ellendige, die voetstappe van die armes.
  • 7 Die pad van die regverdige is gelyk; U maak die spoor van die regverdige gelyk.
  • 8 Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.
  • 9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
  • 10 Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in 'n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.
  • 11 HERE, is u hand opgehef, hulle sien dit nie; maar hulle sal dit sien en beskaamd staan; die ywer vir die volk, ook die vuur teen u teëstanders sal hulle verteer.
  • 12 HERE, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons volbring.
  • 13 HERE, onse God, ander here buiten U het oor ons geheers, maar deur U alleen prys ons ú Naam.
  • 14 Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan.
  • 15 U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.
  • 16 HERE, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het.
  • 17 Soos 'n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp, skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o HERE!
  • 18 Ons was swanger, het weë gehad--dit was asof ons wind gebaar het; ons het die land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewoners gebore nie.
  • 19 U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.
  • 20 Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.
  • 21 Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.