Jesaja 46
Afrikaans Die Heilige Bybel · 13 verses
- 1 Bel het inmekaargesak, Nebo staan krom; hulle afgode is vir die diere en die vee; beelde wat julle rondgedra het, is opgelaai, 'n vrag vir die vermoeide diere.
- 2 Saam staan hulle krom, inmekaargesak; hulle kon die vrag nie red nie, maar het self in gevangenskap gegaan.
- 3 Luister na My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af, opgeneem is van die geboorte af;
- 4 en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.
- 5 By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees?
- 6 Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur 'n goudsmid, en hy maak daar 'n god van; hulle kniel neer, ook buig hulle.
- 7 Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie; ook al roep iemand hom, hy antwoord nie; hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie.
- 8 Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges!
- 9 Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;
- 10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;
- 11 wat 'n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit 'n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.
- 12 Luister na My, julle wat hard is van hart, julle wat ver is van die geregtigheid!
- 13 Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel my heerlikheid.