Markus 11
Afrikaans Die Heilige Bybel · 33 verses
- 1 En toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit
- 2 en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle; en dadelik as julle daar inkom, sal julle 'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens op gesit het nie. Maak hom los en bring hom.
- 3 En as iemand vir julle sê: Waarom doen julle dit? moet julle antwoord: Die Here het hom nodig; en dadelik sal hy hom hierheen stuur.
- 4 En hulle het gegaan en die vul by die deur, buite op die straat, vasgemaak gevind en hom losgemaak.
- 5 Daarop sê sommige van die wat daar staan, vir hulle: Wat maak julle dat julle die vul losmaak?
- 6 En hulle antwoord hul soos Jesus beveel het. Toe laat hulle hul begaan.
- 7 En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit.
- 8 Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad.
- 9 En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
- 10 Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!
- 11 En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië.
- 12 En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;
- 13 en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie.
- 14 En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.
- 15 En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi;
- 16 en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.
- 17 En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
- 18 En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer.
- 19 En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.
- 20 En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.
- 21 En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.
- 22 Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê.
- 23 Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see--en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur--hy sal verkry net wat hy sê.
- 24 Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.
- 25 En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.
- 26 Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.
- 27 En hulle het weer in Jerusalem gekom. En terwyl Hy in die tempel rondwandel, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge na Hom
- 28 en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen?
- 29 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen.
- 30 Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My.
- 31 En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel--sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?
- 32 Maar as ons sê: Uit mense--dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik 'n profeet was.
- 33 En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.