Spreuke 11
Afrikaans Die Heilige Bybel · 31 verses
- 1 'n Valse weegskaal is vir die HERE 'n gruwel, maar in 'n volle gewig het Hy behae.
- 2 Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.
- 3 Die regskapenheid van die opregtes is vir hulle 'n leier, maar die valsheid van die ontroues vernietig hulle.
- 4 Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.
- 5 Die geregtigheid van die regskapene maak sy weg gelyk, maar die goddelose val deur sy goddeloosheid.
- 6 Die geregtigheid van die opregtes red hulle, maar deur hulle eie begeerlikheid word die ontroues gevang.
- 7 By die dood van 'n goddelose mens gaan sy hoop tot niet, en die verwagting van die roekelose het vergaan.
- 8 Word die regverdige uit die benoudheid gered, dan kom die goddelose in sy plek.
- 9 Deur die mond stort die roekelose sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered.
- 10 Oor die voorspoed van die regverdiges jubel 'n stad, en as die goddelose omkom, is daar gejubel.
- 11 Deur die seën van die opregtes kom 'n stad op, maar deur die mond van die goddelose word dit afgebreek.
- 12 Die verstandelose verag sy naaste, maar 'n verstandige man bly stil.
- 13 Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek 'n saak.
- 14 As daar nie goeie oorleg is nie, val 'n volk; maar in die veelheid van raadgewers is redding.
- 15 Baie sleg word iemand behandel as hy vir 'n ander borg gestaan het; maar hy wat haat wie die handslag gee, is veilig.
- 16 'n Aanvallige vrou verkry eer, en die geweldenaars verkry rykdom.
- 17 'n Man wat 'n weldaad bewys, doen goed aan sy eie siel, maar 'n wreedaard pynig sy eie vlees.
- 18 Die goddelose behaal oneerlike wins, maar hy wat geregtigheid saai, 'n betroubare loon.
- 19 Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood.
- 20 Die wat verkeerd van hart is, is vir die HERE 'n gruwel; maar Hy het behae in die wat regskape van wandel is.
- 21 Sekerlik, die slegte bly nie ongestraf nie; maar die geslag van regverdiges raak vry.
- 22 'n Goue ring in 'n vark se snuit, so is 'n vrou wat mooi is maar sonder beleid.
- 23 Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die goddelose is 'n strafgerig van toorn.
- 24 Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.
- 25 Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.
- 26 Hy wat koring terughou, hom vloek die mense; maar seëning kom op die hoof van hom wat koring verkoop.
- 27 Wie die goeie nastreef, soek wat welgevallig is; maar hy wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom.
- 28 Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val; maar die regverdiges sal soos blare uitspruit.
- 29 Wie sy huis in beroering bring, sal wind erwe, en 'n dwaas word 'n slaaf van hom wat wys van hart is.
- 30 Die vrug van die regverdige is 'n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys.
- 31 As die regverdige op aarde vergelding ontvang, hoeveel te meer die goddelose en die sondaar!