Spreuke 24
Afrikaans Die Heilige Bybel · 34 verses
- 1 Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie.
- 2 Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite.
- 3 Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig;
- 4 en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed.
- 5 'n Wyse man is sterk, en 'n man van kennis ontwikkel krag.
- 6 Want deur goeie oorleg kan jy voorspoedig oorlog voer, en die oorwinning is deur die menigte van raadgewers.
- 7 Die wysheid is vir die sot te hoog; in die poort maak hy sy mond nie oop nie.
- 8 Hy wat hom voorneem om kwaad te doen, word 'n skelm genoem.
- 9 Die sonde is 'n dwase voorneme, en die spotter is 'n gruwel vir die mensdom.
- 10 Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag te kort.
- 11 Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug!
- 12 As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! --sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk.
- 13 Eet heuning, my seun, want dit is goed, en heuningstroop is soet teen jou verhemelte.
- 14 Erken dat die wysheid só is vir jou siel; as jy dit vind, dan is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
- 15 Loer nie, o goddelose, op die woning van die regverdige, verwoes sy verblyfplek nie.
- 16 Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.
- 17 As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie,
- 18 dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie.
- 19 Vererg jou nie oor die kwaaddoeners nie, wees nie afgunstig op die goddelose nie.
- 20 Want die kwaaddoener het geen toekoms nie, die lamp van die goddelose gaan dood.
- 21 My seun, vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie.
- 22 Want skielik sal hulle ongeluk opkom, en die uitgang van hulle jare, wie weet dit?
- 23 Ook hierdie spreuke is van die wyse manne afkomstig. Om partydig te wees in die gereg, is verkeerd.
- 24 Hy wat vir die skuldige sê: Jy het reg! --die volke sal hom vervloek, die nasies sal hom verwens.
- 25 Maar met die wat onpartydig straf, gaan dit goed; en oor hulle kom die seën van voorspoed.
- 26 Hy wat regte antwoorde gee, soen die lippe.
- 27 Maak jou werk buitekant reg, en bring dit vir jou op die land in orde; daarna moet jy dan jou huis bou.
- 28 Wees nie sonder oorsaak getuie teen jou naaste nie; want mag jy met jou lippe mislei?
- 29 Moenie sê nie: Soos hy aan my gedoen het, so sal ek aan hom doen--ek sal die man vergelde na sy werk.
- 30 Ek het by die land van 'n lui man verbygeloop en langs die wingerd van 'n verstandelose mens,
- 31 en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi.
- 32 En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem:
- 33 Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus;
- 34 dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos 'n gewapende man.