Spreuke 16
Afrikaans Die Heilige Bybel · 33 verses
- 1 Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE.
- 2 Al die weë van 'n man is suiwer in sy oë, maar die HERE toets die geeste.
- 3 Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word.
- 4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
- 5 Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE 'n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.
- 6 Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk 'n mens af van die kwaad.
- 7 As die HERE behae het in die weë van 'n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou.
- 8 Liewer 'n bietjie met geregtigheid, as 'n menigte van inkomste met onreg.
- 9 Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe.
- 10 Die beslissing is op die lippe van die koning; in die regspraak handel sy mond nie ontrou nie.
- 11 'n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die HERE, al die weegstene in die sak is sy werk.
- 12 Dit is 'n gruwel vir konings om goddeloosheid te doen, want deur geregtigheid word die troon bevestig.
- 13 Die konings het behae in regverdige lippe, en hulle het hóm lief wat regte dinge spreek.
- 14 Die grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood, maar 'n wyse man bring dit tot bedaring.
- 15 In die vriendelike blik van die koning is lewe, en sy welgevalle is soos 'n wolk van die laat reëns.
- 16 Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.
- 17 Die gemaakte pad van die opregtes is om van die kwaad af te wyk; hy wat op sy wandel ag gee, bewaar sy lewe.
- 18 Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.
- 19 Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.
- 20 Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig.
- 21 'n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering.
- 22 'n Fontein van die lewe is die verstand vir sy besitter, maar die tugtiging van die sotte is sotheid.
- 23 Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe.
- 24 Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek: soet vir die siel en 'n genesing vir die gebeente.
- 25 Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
- 26 Die honger van die werksman arbei vir hom, want sy mond jaag hom aan.
- 27 'n Deugniet grawe 'n kuil van onheil, en op sy lippe is soos 'n brandende vuur.
- 28 'n Man van valse streke saai tweedrag, en 'n kwaadstoker skei vriende van mekaar.
- 29 'n Man van geweld verlei sy naaste en lei hom op 'n weg wat nie goed is nie.
- 30 Hy wat sy oë toemaak om valsheid te bedink, wat sy lippe vasknyp, het die kwaad alreeds gedoen.
- 31 Grysheid is 'n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.
- 32 Die lankmoedige is beter as 'n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat 'n stad inneem.
- 33 In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.