Spreuke 19
Afrikaans Die Heilige Bybel · 29 verses
- 1 'n Arme wat in sy regskapenheid wandel, is beter as 'n verkeerde van lippe en daarby 'n dwaas.
- 2 Selfs ywer is sonder kennis nie goed nie; en hy wat haastig is met die voete, trap mis.
- 3 'n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE.
- 4 Goed bring baie vriende aan, maar die arme word deur sy vriend verlaat.
- 5 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie.
- 6 Baie soek die guns van die edele, en die man van geskenke het 'n hoop vriende.
- 7 Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde--weg is hulle!
- 8 Wie verstand verkry, het sy lewe lief; hy wat insig bewaar, sal die goeie vind.
- 9 'n Valse getuie bly nie ongestraf nie, en hy wat leuens uitstrooi, kom om.
- 10 Weelde pas nie vir 'n dwaas nie, hoeveel minder vir 'n kneg om oor vorste te heers!
- 11 Die verstand van 'n mens maak hom lankmoedig, en dit is vir hom 'n eer om die oortreding te vergewe.
- 12 Die grimmigheid van 'n koning is soos die gebrom van 'n jong leeu, maar sy welgevalle is soos dou op die plante.
- 13 'n Dwase seun is 'n ramp vir sy vader, en die gekyf van 'n vrou is 'n aanhoudende gedrup.
- 14 Huis en goed is 'n erfenis van die vaders, maar 'n verstandige vrou is van die HERE.
- 15 Luiheid laat in 'n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly.
- 16 Wie die gebod hou, bewaar sy lewe; hy wat sy weë nie ag nie, sal sterwe.
- 17 Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.
- 18 Tugtig jou seun, want daar is hoop; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie.
- 19 Hy wat groot van woede is, sal die straf dra; want as jy wil red, dan maak jy dit nog erger.
- 20 Luister na raad en neem tug aan, sodat jy in die vervolg wys kan wees.
- 21 Baie planne is in 'n man se hart, maar die raad van die HERE, dié sal bestaan.
- 22 Die kostelike besit van 'n mens is sy weldadigheid; en liewer 'n arme as 'n leuenagtige man.
- 23 Die vrees van die HERE is tot die lewe; en versadig bring 'n mens die nag deur, sonder om deur 'n onheil besoek te word.
- 24 Steek die luiaard sy hand in die skottel, dan bring hy dit nie eens na sy mond terug nie.
- 25 Slaan jy die spotter, dan word die eenvoudige bedagsaam; maar bestraf jy die verstandige, dan sal hy kennis verkry.
- 26 Hy wat sy vader geweld aandoen en sy moeder wegjaag, is 'n seun wat skande maak en skandelik handel.
- 27 Hou op, my seun, om na tug te luister, terwyl jy tog afdwaal van die woorde van kennis.
- 28 'n Deugniet wat getuienis gee, spot met die reg, en die mond van die goddelose verslind onreg.
- 29 Vir die spotters staan strafgerigte klaar en slae vir die rug van die dwase.