Spreuke 22
  • 1 'n Naam is verkiesliker as groot rykdom, guns beter as silwer en as goud.
  • 2 Rykes en armes ontmoet mekaar, die HERE het hulle almal gemaak.
  • 3 'n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.
  • 4 Die loon van nederigheid is die vrees van die HERE, is rykdom en eer en die lewe.
  • 5 Dorings, vangnette lê op die pad van die verkeerde; hy wat sy siel wil bewaar, bly ver weg daarvandaan.
  • 6 Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.
  • 7 Die ryke heers oor die armes, en hy wat leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen.
  • 8 Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy grimmigheid sal verdwyn.
  • 9 Wie vriendelik is, hy word geseën, omdat hy van sy brood aan die arme gee.
  • 10 Dryf die spotter weg, dan gaan die twis weg; en die stryery en die geskimp hou op.
  • 11 Hy wat reinheid van hart liefhet, wie se lippe aangenaam is--die koning is sy vriend.
  • 12 Die oë van die HERE bewaar kennis; daarom verydel Hy die woorde van die ontroue.
  • 13 Die luiaard sê: Daar is 'n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!
  • 14 Die mond van die vreemde vroue is 'n diep kuil; hy op wie die HERE vertoornd is, sal daarin val.
  • 15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.
  • 16 Wie die arme verdruk, bevoordeel hom; hy wat aan die ryke gee, verarm hom net.
  • 17 Gee gehoor en luister na die woorde van die wyse manne, en let op my kennis.
  • 18 Want dit is lieflik as jy dit in jou binneste bewaar; mag hulle tesame gereed lê op jou lippe.
  • 19 Dat jou vertroue op die HERE mag wees, daarom onderwys ek jou vandag, ja, vir jou.
  • 20 Het ek jou nie kernagtige spreuke voorgeskrywe met raadgewinge en kennis,
  • 21 om jou bekend te maak waarheid, betroubare woorde, sodat jy woorde van waarheid kan antwoord aan die wat jou stuur nie?
  • 22 Beroof die arme nie, omdat hy arm is, en verbrysel die ellendige nie in die poort nie.
  • 23 Want die HERE sal hulle saak verdedig en hulle berowers van die lewe berowe.
  • 24 Verkeer nie met 'n driftige man nie, en met 'n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie,
  • 25 sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en 'n strik vir jouself span nie.
  • 26 Wees nie onder die wat 'n handslag gee, onder die wat vir skulde borg staan nie.
  • 27 As jy nie het om te betaal nie, waarom sal hulle jou bed onder jou uit neem?
  • 28 Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie.
  • 29 Sien jy 'n man wat vaardig is in sy werk--hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie.