Spreuke 13
  • 1 'n Wyse seun luister na die tug van die vader, maar 'n spotter hoor nie na berisping nie.
  • 2 Van die vrug van iemand se mond eet hy die goeie, maar die begeerte van die ontroues is 'n daad van geweld.
  • 3 Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang.
  • 4 Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig.
  • 5 Die regverdige haat leuentaal, maar die goddelose maak gehaat en handel skandelik.
  • 6 Geregtigheid bewaar die regskapene van wandel, maar goddeloosheid bring die sondaar tot 'n val.
  • 7 Daar is een wat hom ryk hou, en hy het glad niks nie; een wat hom arm hou, en hy het baie goed.
  • 8 Die losprys vir die lewe van 'n man is sy rykdom, maar die arme hoor geen dreigement nie.
  • 9 Die lig van die regverdige brand vrolik, maar die lamp van die goddelose gaan dood.
  • 10 Vermetelheid gee net getwis af; maar by die wat hulle laat raai, is wysheid.
  • 11 Goed wat uit niks verkry is, word minder; maar hy wat met die hand bymekaarmaak, kry altyd meer.
  • 12 'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom.
  • 13 Wie die Woord verag, moet dit ontgelde; maar hy wat die gebod vrees, ontvang vergelding.
  • 14 Die onderrig van die wyse is 'n fontein van die lewe, om die strikke van die dood te ontwyk.
  • 15 'n Goeie verstand verskaf guns, maar die weg van die ontroues is hard.
  • 16 Elke skrandere handel met kennis, maar die dwaas strooi sotheid rond.
  • 17 'n Goddelose boodskapper val in die ongeluk, maar 'n betroubare boodskapper is 'n gerusstelling.
  • 18 Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp; maar hy wat die teregwysing in ag neem, word geëer.
  • 19 'n Vervulde wens is soet vir die siel, maar om af te wyk van die kwaad, is 'n gruwel vir die dwase.
  • 20 Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.
  • 21 Die onheil vervolg die sondaars, maar Hy sal die regverdiges met goed vergelde.
  • 22 'n Goeie mens laat sy kindskinders erwe, maar die vermoë van die sondaar word vir die regverdige weggebêre.
  • 23 Die braakland van die armes lewer oorvloedig spys op, maar daar is wat deur ongeregtigheid verlore gaan.
  • 24 Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.
  • 25 Die regverdige eet totdat hy versadig is; maar die maag van die goddelose ly gebrek.