Spreuke 21
  • 1 Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
  • 2 Elke weg van 'n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.
  • 3 Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers.
  • 4 Hoogheid van oë en trotsheid van hart--die glans van die goddelose is sonde.
  • 5 Die planne van die vlytige is net tot voordeel, maar elkeen wat oorhaastig is, kom net tot gebrek.
  • 6 Die verwerwing van skatte deur 'n valse tong is 'n verwaaide asem--dodelike valstrikke.
  • 7 Die gewelddadigheid van die goddelose sleep hulle weg, want hulle weier om reg te doen.
  • 8 Gekronkeld is die weg van 'n skuldige mens; maar die reine--sy handeling is reg.
  • 9 Dit is beter om op die hoek van 'n dak te woon as by 'n twisgierige vrou en 'n gemeenskaplike huis.
  • 10 Die siel van die goddelose begeer die kwaad; sy naaste vind in sy oë geen genade nie.
  • 11 As 'n mens 'n spotter straf, word die eenvoudige bedagsaam; en as 'n mens 'n wyse onderrig, neem hy self kennis aan.
  • 12 Die regverdige let op die huis van die goddelose; Hy stort die goddelose in die ongeluk.
  • 13 Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.
  • 14 'n Geskenk in die geheim bring die toorn tot bedaring en 'n geskenk in die skoot die heftige woede.
  • 15 Vreugde is dit vir die regverdige om reg te doen, maar 'n verskrikking vir die werkers van ongeregtigheid.
  • 16 'n Mens wat afdwaal van die pad van verstand, sal in die vergadering van die skimme rus.
  • 17 Wie van vrolikheid hou, is 'n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.
  • 18 Die goddelose is 'n losprys vir die regverdige, en in die plek van die opregtes kom die ontroue.
  • 19 Dit is beter om in 'n woeste land te woon as by 'n twisgierige vrou en ergernis.
  • 20 'n Kosbare skat en olie is in die woning van die regverdige, maar 'n dwase mens bring dit deur.
  • 21 Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind.
  • 22 Die wyse beklim die stad van die helde en gooi die vesting neer waar dit op vertrou.
  • 23 Hy wat sy mond en sy tong bewaar, bewaar sy siel van benoudhede.
  • 24 'n Vermetele, 'n trotsaard word 'n spotter genoem, een wat in oormaat van vermetelheid handel.
  • 25 Die begeerte van die luiaard sal hom doodmaak, want sy hande weier om te werk;
  • 26 die hele dag deur word daar dringend begeer, maar die regverdige gee en hou nie terug nie.
  • 27 Die offer van die goddelose is 'n gruwel; hoeveel te meer as hulle dit met skandelike bedoeling bring.
  • 28 'n Leuenagtige getuie kom om; maar 'n man wat goed toeluister, spreek vir altyd.
  • 29 Die goddelose trek 'n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting.
  • 30 Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie.
  • 31 Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.