Spreuke 7
Afrikaans Die Heilige Bybel · 27 verses
- 1 My seun, onderhou my woorde en bewaar my gebooie by jou;
- 2 onderhou my gebooie, dan sal jy lewe, en my onderwysing soos jou oogappel;
- 3 bind hulle aan jou vingers, skryf hulle op die tafel van jou hart.
- 4 Sê aan die wysheid: Jy is my suster! en noem die verstand jou vertroueling,
- 5 sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei.
- 6 Want ek het deur die venster van my huis, deur my tralievenster uitgekyk,
- 7 en ek het onder die eenvoudiges gesien, onder die jongmense 'n verstandelose jongman opgemerk,
- 8 wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap,
- 9 in die skemer, in die aand van die dag, in die middel van die nag en die donker.
- 10 En kyk, daar kom 'n vrou hom tegemoet, soos 'n hoer aangetrek en listig van hart--
- 11 sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie--
- 12 nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer.
- 13 En sy het hom gegryp en hom gesoen, met 'n onbeskaamde gesig vir hom gesê:
- 14 Ek moes dankoffers bring, vandag het ek my geloftes betaal;
- 15 daarom het ek uitgegaan om jou te ontmoet, om jou aangesig te soek, en ek het jou gekry.
- 16 Ek het my bed met dekens opgemaak, met bont spreie van Egiptiese linne;
- 17 ek het my bed besprinkel met mirre, alewee en kaneel--
- 18 kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.
- 19 Want die man is nie tuis nie, hy het ver weg op reis gegaan,
- 20 die geldbeurs het hy met hom saamgeneem, teen die dag van volmaan sal hy eers tuis kom.
- 21 Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok.
- 22 Hy loop skielik agter haar aan soos 'n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot,
- 23 totdat die pyl sy lewer splits; soos 'n voël haastig na die vangnet vlieg--sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is.
- 24 Hoor dan nou na my, seuns, en luister na die woorde van my mond.
- 25 Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie.
- 26 Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is.
- 27 Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood.