Spreuke 14
Afrikaans Die Heilige Bybel · 35 verses
- 1 Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.
- 2 Wie in sy opregtheid wandel, vrees die HERE; maar hy wat verkeerd is in sy weë, verag Hom.
- 3 In die mond van die sot is 'n roede vir sy trots, maar die lippe van die wyse bewaar hulle.
- 4 Waar geen beeste is nie, is die krip leeg, maar deur die krag van die os is die inkomste baie.
- 5 'n Betroubare getuie lieg nie, maar 'n valse getuie strooi leuens uit.
- 6 Die spotter soek wysheid, en dit is nie daar nie; maar vir die verstandige is kennis maklik.
- 7 Gaan weg voor 'n dwase man, want jy het daar niks gemerk van die lippe van kennis nie.
- 8 Die wysheid van die skrandere is om sy weg te verstaan, maar die sotheid van die dwase is bedrog.
- 9 Die skuldoffer spot met die dwase, maar tussen die opregtes is daar welwillendheid.
- 10 Die hart ken sy eie verdriet, en in sy blydskap kan 'n ander hom nie meng nie.
- 11 Die huis van die goddelose word verdelg, maar die tent van die opregtes bloei.
- 12 Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
- 13 Ook onder gelag kan die hart pyn ly, en die einde van so 'n blydskap is bekommernis.
- 14 Uit sy eie wandel word die verkeerde van hart versadig, maar die goeie man uit syne.
- 15 Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.
- 16 Die wyse vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas bruis op en is vol selfvertroue.
- 17 Wie kortgebonde is, begaan sotheid; en 'n slinkse man word gehaat.
- 18 Die eenvoudiges verkry sotheid as 'n erfenis, maar die skranderes word met kennis gekroon.
- 19 Die slegtes moet buig voor die goeies, en die goddelose by die poorte van die regverdige.
- 20 Die arme word selfs deur sy naaste gehaat, maar die vriende van die ryke is talryk.
- 21 Wie sy naaste verag, doen sonde; maar hy wat medelyde het met die ellendiges, hy is gelukkig.
- 22 Verdwaal hulle nie wat onheil bewerk nie? Maar liefde en trou is vir die wat die goeie bewerk.
- 23 In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.
- 24 Die kroon van die wyse is hulle rykdom, die sotheid van die dwase bly sotheid.
- 25 'n Betroubare getuie red lewens, maar hy wat leuens uitstrooi, is bedrog.
- 26 In die vrees van die HERE lê 'n sterk sekerheid, ook vir die kinders van 'n sodanige sal daar 'n toevlug wees.
- 27 Die vrees van die HERE is 'n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.
- 28 In die menigte van die volk lê die heerlikheid van die koning, maar in die gebrek aan mense die ondergang van die vors.
- 29 Die lankmoedige is groot van verstand, maar die kortgebondene behaal sotheid.
- 30 'n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog 'n verrotting vir die gebeente.
- 31 Wie die geringe verdruk, versmaad sy Maker, maar hy wat hom oor die behoeftige ontferm, eer Hom.
- 32 In sy ongeluk word die goddelose omgestoot, maar die regverdige vind 'n toevlug by sy dood.
- 33 Wysheid rus in die hart van die verstandige, word selfs rugbaar te midde van die dwase.
- 34 Geregtigheid verhoog 'n volk, maar die sonde is 'n skandvlek vir die nasies.
- 35 Die welbehae van die koning is vir 'n verstandige dienaar, maar een wat skande maak, is 'n voorwerp van sy grimmigheid.