Spreuke 6
Afrikaans Die Heilige Bybel · 35 verses
- 1 My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir 'n vreemde jou handslag gegee het,
- 2 verstrik is in die woorde van jou mond, gevang is deur die woorde van jou mond,
- 3 doen dan dit, my seun, om jouself te red--want jy het in die hand van jou naaste geraak--gaan, werp jou neer en bestorm jou naaste,
- 4 gun jou oë geen slaap en jou ooglede geen sluimering nie;
- 5 red jou soos 'n gemsbok uit die hand, en soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger.
- 6 Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys!
- 7 Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie,
- 8 maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.
- 9 Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap?
- 10 Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!
- 11 So kom dan jou armoede soos 'n rondloper en jou gebrek soos 'n gewapende man.
- 12 'n Deugniet, 'n kwaaddoener is hy wat met 'n valse mond rondloop,
- 13 wat met sy oë knip, met sy voete beduie, met sy vingers tekens gee;
- 14 in wie se hart valse streke is, wat altyd onheil bewerk en tweedrag saai.
- 15 Daarom sal sy ondergang skielik kom, onvoorsiens sal hy verbreek word sonder dat daar genesing voor is.
- 16 Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel 'n gruwel:
- 17 trotse oë, 'n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,
- 18 'n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop,
- 19 een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.
- 20 Bewaar, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie;
- 21 bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals;
- 22 mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word.
- 23 Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe,
- 24 om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
- 25 Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie;
- 26 want vir 'n hoer verval 'n mens tot 'n stuk brood, en 'n ander se vrou maak jag op 'n kosbare lewe.
- 27 Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand?
- 28 Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry?
- 29 So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie.
- 30 'n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het;
- 31 en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee.
- 32 Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets;
- 33 slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
- 34 want jaloersheid is 'n toorngloed in 'n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie;
- 35 hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.