Spreuke 8
Afrikaans Die Heilige Bybel · 36 verses
- 1 Roep die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie?
- 2 Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy,
- 3 aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop:
- 4 Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders.
- 5 Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan.
- 6 Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is.
- 7 Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel.
- 8 Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie,
- 9 hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het.
- 10 Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud.
- 11 Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.
- 12 Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg.
- 13 Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.
- 14 Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne.
- 15 Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is;
- 16 deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.
- 17 Ék het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind.
- 18 Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid.
- 19 My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer.
- 20 Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg,
- 21 om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol.
- 22 Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af.
- 23 Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.
- 24 Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie;
- 25 voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore;
- 26 toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie.
- 27 Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed;
- 28 toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het;
- 29 toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het--
- 30 toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd,
- 31 en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders.
- 32 Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar.
- 33 Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie.
- 34 Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou.
- 35 Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE.
- 36 Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.