Spreuke 23
  • 1 Sit jy aan om saam met 'n heerser te eet, let dan net op wat vóór jou is,
  • 2 en sit 'n mes op jou keel as jy 'n goeie eetlus het.
  • 3 Moenie sy lekker ete begeer nie, want dit is bedrieglike spys.
  • 4 Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid.
  • 5 Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!
  • 6 Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie, en begeer nie sy lekker ete nie.
  • 7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
  • 8 Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou vriendelike woorde verspil.
  • 9 Spreek nie voor die ore van 'n dwaas nie, want hy sal die verstandigheid van jou woorde verag.
  • 10 Verlê die ou grenslyne nie, en kom nie op die landerye van die wese nie.
  • 11 Want hulle Verlosser is sterk, Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
  • 12 Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis.
  • 13 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.
  • 14 Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.
  • 15 My seun, as jou hart wys word, dan sal my hart hom ook verheug.
  • 16 En my niere sal jubel as jou lippe spreek wat reg is.
  • 17 Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE.
  • 18 Waarlik, daar is 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
  • 19 Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg.
  • 20 Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal.
  • 21 Want 'n drinker en 'n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra.
  • 22 Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie.
  • 23 Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand.
  • 24 Die vader van 'n regverdige juig baie; en as iemand 'n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom.
  • 25 Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het.
  • 26 My seun, gee my jou hart, en laat jou oë 'n welgevalle hê in my weë.
  • 27 Want 'n hoer is 'n diep kuil, en 'n ontugtige vrou is 'n nou put.
  • 28 Sy lê ook en loer soos 'n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom.
  • 29 By wie is "Ag!"; by wie is "Wee my!"; by wie is getwis; by wie is geklaag; by wie is wonde sonder oorsaak; by wie is dofheid van oë?
  • 30 By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe.
  • 31 Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie:
  • 32 op die end byt dit soos 'n slang en spuug gif uit soos 'n basilisk.
  • 33 Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek;
  • 34 en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê.
  • 35 Hulle het my geslaan, sê jy dan, ek het geen pyn gevoel nie; hulle het my neergeslaan, ek het dit nie gemerk nie!
  • 36 Wanneer sal ek wakker word? Dan sal ek dit weer opnuut soek.