Spreuke 4
Afrikaans Die Heilige Bybel · 27 verses
- 1 Hoor, julle seuns, na die tug van die vader, en luister om insig te leer ken;
- 2 want ek gee aan julle goeie lering, verlaat my onderwysing nie.
- 3 Want toe ek 'n seun was by my vader, teer en 'n enigste voor my moeder,
- 4 het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe.
- 5 Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie:
- 6 verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak.
- 7 Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit.
- 8 Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels.
- 9 Dit sal 'n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou 'n sierlike kroon verskaf.
- 10 Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word.
- 11 In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree;
- 12 as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.
- 13 Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe.
- 14 Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie.
- 15 Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby;
- 16 want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie.
- 17 Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.
- 18 Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe,
- 19 is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.
- 20 My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde,
- 21 laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart.
- 22 Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en 'n genesing vir hulle hele liggaam.
- 23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.
- 24 Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe.
- 25 Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou.
- 26 Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees,
- 27 wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.