Spreuke 18
  • 1 Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek.
  • 2 Die dwaas het geen behae in verstandigheid nie, maar net daarin dat sy hart openbaar word.
  • 3 As die goddelose kom, kom ook veragting; en saam met die skande, versmading.
  • 4 Die woorde van 'n man se mond is diep waters, 'n stroom wat bruis, 'n fontein van wysheid.
  • 5 Om vir die goddelose partydig te wees, om die regverdige in die gereg weg te stoot, is nie goed nie.
  • 6 Die lippe van die dwaas kom met getwis, en sy mond roep na slae.
  • 7 Die mond van die dwaas is sy ondergang en sy lippe 'n strik vir sy lewe.
  • 8 Die woorde van die kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.
  • 9 Alreeds hy wat hom slap hou in sy werk, hy is 'n broer van 'n verwoester.
  • 10 Die Naam van die HERE is 'n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.
  • 11 Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos 'n steil muur in sy verbeelding.
  • 12 Voor die verbreking is die mens se hart hoogmoedig, maar nederigheid gaan aan die eer vooraf.
  • 13 Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit 'n sotheid en 'n skande wees.
  • 14 Die gees van 'n man ondersteun hom in sy krankheid; maar 'n verslae gees--wie kan dit opbeur?
  • 15 Die hart van die verstandige verwerf kennis, en die oor van wyse soek na kennis.
  • 16 Die geskenk van iemand maak vir hom ruimte en bring hom in die teenwoordigheid van die aansienlikes.
  • 17 Hy wat die eerste in sy regsaak is, het reg; maar sy naaste kom en ondersoek hom terdeë.
  • 18 Die lot laat die geskille ophou en maak sterkes uitmekaar.
  • 19 'n Broer teen wie oortree is, is erger as 'n sterk stad; en geskille is soos die grendel van 'n paleis.
  • 20 Van die vrug van iemand se mond word sy maag versadig; hy word versadig van die opbrings van sy lippe.
  • 21 Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.
  • 22 Wie 'n vrou gevind het, het iets goeds gevind en 'n welgevalle van die HERE verkry.
  • 23 Die arme spreek smekinge, maar die ryke antwoord harde dinge.
  • 24 'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer.