Spreuke 15
Afrikaans Die Heilige Bybel · 33 verses
- 1 'n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar 'n krenkende woord laat die toorn opkom.
- 2 Die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel.
- 3 Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.
- 4 Sagtheid van tong is 'n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.
- 5 Die sot verag die tug van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys.
- 6 In die huis van die regverdige is 'n groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring.
- 7 Die lippe van die wyse strooi kennis uit, maar die hart van die dwase is nie reg nie.
- 8 Die offer van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.
- 9 Die wandel van die goddelose is vir die HERE 'n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.
- 10 'n Strenge tugtiging is daar vir hom wat die pad verlaat; hy wat die teregwysing haat, sal sterwe.
- 11 Die doderyk en die plek van vertering lê oop voor die HERE, hoeveel te meer die harte van die mensekinders!
- 12 Die spotter hou nie daarvan dat 'n mens hom bestraf nie, hy gaan nie na die wyse toe nie.
- 13 'n Vrolike hart maak die aangesig bly, maar by verdriet van die hart is die gees neerslagtig.
- 14 Die hart van die verstandige soek na kennis, maar die mond van die dwase gaan met sotheid om.
- 15 Al die dae van die bedrukte is sleg, maar die vrolike van hart het gedurigdeur fees.
- 16 Liewer 'n bietjie in die vrees van die HERE, as 'n groot skat en onrus daarby.
- 17 Liewer 'n porsie groente waar liefde by is, as 'n vetgevoerde bees en haat daarby.
- 18 'n Driftige man verwek twis, maar die lankmoedige laat die geskil bedaar.
- 19 Die weg van die luiaard is soos 'n heining van dorings, maar die pad van die opregtes is reggemaak.
- 20 'n Wyse seun verbly sy vader, maar 'n dwase mens verag sy moeder.
- 21 Sotheid is 'n vreugde vir die verstandelose, maar 'n man van verstand wandel reguit.
- 22 Planne misluk sonder beraadslaging, maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.
- 23 'n Man het blydskap in die regte antwoord van sy mond, en hoe goed is 'n woord op sy tyd!
- 24 Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk.
- 25 Die HERE ruk die huis van die trotsaards om, maar die grenslyn van die weduwee stel Hy vas.
- 26 Die planne van die slegte is vir die HERE 'n gruwel, maar vriendelike woorde is rein.
- 27 Wie onregverdige wins maak, bring sy huis in beroering; maar hy wat geskenke haat, sal lewe.
- 28 Die hart van die regverdige dink ná om te antwoord, maar die mond van die goddelose laat slegte dinge uitborrel.
- 29 Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy.
- 30 Stralende oë verbly die hart; 'n goeie tyding maak die gebeente vet.
- 31 Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef.
- 32 Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand.
- 33 Die vrees van die HERE is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf.