Spreuke 26
Afrikaans Die Heilige Bybel · 28 verses
- 1 Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by 'n dwaas nie.
- 2 Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is 'n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie.
- 3 'n Sweep is vir die perd, 'n toom vir die esel en 'n roede vir die rug van die dwase.
- 4 Antwoord 'n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.
- 5 Antwoord 'n dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie.
- 6 Hy kap sy voete af, hy ly onreg, wat 'n boodskap stuur deur middel van 'n dwaas.
- 7 Soos die bene van 'n lamme slap afhang, so is 'n spreuk in die mond van die dwase.
- 8 Soos een wat 'n klip in 'n slinger vasbind, so is hy wat eer gee aan 'n dwaas.
- 9 Soos 'n doring wat in die hand van 'n dronkaard geraak het, so is 'n spreuk in die mond van die dwase.
- 10 Soos 'n skutter wat alles in gevaar bring, is hy wat 'n dwaas huur, sowel as hy wat verbygangers huur.
- 11 Soos 'n hond wat na sy uitbraaksel teruggaan, is 'n dwaas wat sy sotheid weer ophaal.
- 12 Het jy 'n man gesien wat wys is in sy eie oë? Daar is meer hoop vir 'n dwaas as vir hom.
- 13 Die luiaard sê: Daar is 'n leeu op die pad, 'n leeu op die pleine.
- 14 'n Deur draai rond op sy skarniere, so die luiaard op sy bed.
- 15 Het die luiaard sy hand in die skottel gesteek, hy is te moeg om dit na sy mond terug te bring.
- 16 Die luiaard is wyser in sy eie oë as sewe wat verstandig antwoord.
- 17 Hy wat 'n verbylopende hond aan die ore gryp, is een wat hom vererg oor 'n twis wat hom nie aangaan nie.
- 18 Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet,
- 19 so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar.
- 20 Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.
- 21 Soos kole die gloed en hout die vuur laat opvlam, so is 'n twisgierige man om 'n twis aan te hits.
- 22 Die woorde van 'n kwaadstoker is soos lekkernye, en dit gly af na die kamers van die binneste.
- 23 Silwerskuim waarmee 'n potskerf oorgetrek is--so is gloeiende lippe en 'n slegte hart.
- 24 Die hater veins met sy lippe, maar in sy binneste koester hy bedrog.
- 25 As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart.
- 26 Al verberg die haat homself in bedrog, sy boosheid word in die vergadering openbaar.
- 27 Wie 'n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat 'n klip rol, dit sal na hom terugkom.
- 28 'n Valse tong haat die wat hy verbrysel het, en 'n gladde mond bewerk ondergang.