Spreuke 2
Afrikaans Die Heilige Bybel · 22 verses
- 1 My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar,
- 2 sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand;
- 3 ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef,
- 4 as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte,
- 5 dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind
- 6 (want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand,
- 7 en Hy bewaar hulp vir die opregtes, Hy is 'n skild vir die wat regskape wandel
- 8 deurdat Hy die paaie van die reg bewaak en die weg van sy gunsgenote bewaar);
- 9 dan sal jy geregtigheid en reg verstaan en regverdigheid--elke goeie pad.
- 10 Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees;
- 11 oorleg sal oor jou wag hou, verstand sal jou bewaak,
- 12 om jou te red van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek;
- 13 van die wat die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel;
- 14 die wat hulle verheug in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte,
- 15 van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore;
- 16 om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei
- 17 (wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet;
- 18 want haar huis sink weg na die dood en haar paaie na die skimme;
- 19 almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie)
- 20 sodat jy kan wandel op die weg van die goeies en die paaie van die regverdiges kan hou;
- 21 want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly,
- 22 maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.