Job 12
Afrikaans Die Heilige Bybel · 25 verses
- 1 Maar Job het geantwoord en gesê:
- 2 Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit!
- 3 Ook ek het verstand soos julle; ek staan nie vir julle terug nie; en wie weet sulke dinge nie?
- 4 Ek moet 'n belagging wees vir my vriend, ek wat God aangeroep en verhoring gevind het--'n belagging is die regverdige, die opregte!
- 5 Vir die ongeluk is daar veragting volgens die gedagte van hom wat lekker lewe; dit staan klaar vir hulle wie se voet wankel.
- 6 Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy god in sy hand dra.
- 7 Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee;
- 8 of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.
- 9 Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?
- 10 In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.
- 11 Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?
- 12 By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand.
- 13 By Hóm is wysheid en mag; Hy het raad en verstand.
- 14 Kyk, Hy breek af, en daar word nie opgebou nie; Hy sluit 'n man as gevangene op, en daar word nie oopgemaak nie.
- 15 Kyk, Hy hou die waters terug, en hulle verdroog; ook laat Hy hulle los, en hulle keer die aarde om.
- 16 By Hóm is krag en beleid; syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal.
- 17 Hy voer raadsmanne uitgeplunder weg, en regters maak Hy tot dwase.
- 18 Hy maak die band los waar konings mee bind, en bind 'n lyfdoek om hulle heupe.
- 19 Hy voer priesters uitgeplunder weg en bring wie vasstaan, tot 'n val.
- 20 Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel.
- 21 Hy stort veragting uit oor die edeles en maak die gordel van die magtiges slap.
- 22 Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig.
- 23 Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg.
- 24 Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in 'n wildernis, sonder pad.
- 25 Hulle tas in die duisternis, sonder lig; en Hy laat hulle ronddwaal soos 'n dronk man.