Job 28
  • 1 Want vir die silwer is daar 'n plek waar dit uitkom, en 'n plek vir die goud wat hulle uitwas.
  • 2 Yster word uit die grond gehaal, en koper word uit klip gegiet.
  • 3 'n Einde maak die mens aan die duisternis, en tot die uiterste grens deursoek hy die klip van donkerheid en doodskaduwee.
  • 4 Hy breek 'n mynskag, wég van hom wat bo woon; hulle wat vergeet is deur die voet daarbo, hulle hang ver van mense af, hulle swaai heen en weer.
  • 5 Die aarde--daar kom brood uit voort, maar daaronder word dit omgewoel soos deur vuur.
  • 6 Die klippe daarvan is die plek van saffiere, en dit bevat stoffies van goud.
  • 7 'n Pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie;
  • 8 waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie.
  • 9 Hy slaan sy hand aan die klipharde rots, hy woel die berge van die wortel af om.
  • 10 In die rotse breek hy gange uit, en sy oog sien allerhande kosbare dinge.
  • 11 Hy stop waterare toe, dat hulle nie drup nie; en wat verborge was, bring hy aan die lig.
  • 12 Maar die wysheid--waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?
  • 13 Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie.
  • 14 Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie.
  • 15 Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie.
  • 16 Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie.
  • 17 Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil 'n mens dit nie.
  • 18 Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale.
  • 19 Die topaas van Kus kan daarmee nie vergelyk word nie, suiwer goud word daarteen nie opgeweeg nie.
  • 20 Die wysheid dan--waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand?
  • 21 Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel.
  • 22 Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.
  • 23 God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan.
  • 24 Want Hy sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy.
  • 25 Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het,
  • 26 toe Hy vir die reën 'n wet gestel het en 'n weg vir die onweerstraal,
  • 27 toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors.
  • 28 Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.