Job 38
  • 1 Daarna het die HERE Job uit 'n storm geantwoord en gesê:
  • 2 Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis?
  • 3 Gord dan soos 'n man jou heupe--dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.
  • 4 Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.
  • 5 Wie het sy afmetinge bepaal? --jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan?
  • 6 Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?
  • 7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?
  • 8 En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het?
  • 9 Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel.
  • 10 Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het;
  • 11 en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word 'n grens gestel vir jou trotse golwe.
  • 12 Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys,
  • 13 om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word?
  • 14 Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder 'n seël; en die dinge kry gestalte soos 'n kleed.
  • 15 En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek.
  • 16 Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed?
  • 17 Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien?
  • 18 Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet.
  • 19 Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis--waar is tog sy plek,
  • 20 sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis?
  • 21 Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot!
  • 22 Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien,
  • 23 wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?
  • 24 Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde?
  • 25 Wie het 'n kanaal gesplyt vir die stortvloed en 'n pad vir die onweerstraal;
  • 26 om te laat reën op 'n land waar geen mens is nie, op 'n woestyn waar niemand woon nie;
  • 27 om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit?
  • 28 Het die reën 'n vader? Of wie verwek die doudruppels?
  • 29 Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel--wie baar dit?
  • 30 Die waters word hard soos 'n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar.
  • 31 Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak?
  • 32 Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei?
  • 33 Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel?
  • 34 Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat 'n oorvloed van water jou oordek?
  • 35 Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons!
  • 36 Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte?
  • 37 Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel--wie giet hulle leeg
  • 38 wanneer die stof saamvloei tot 'n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe?