Job 5
  • 1 Roep maar--is daar iemand wat jou antwoord gee? En na wie van die heiliges sal jy gaan?
  • 2 Want verbitterdheid vermoor die dwaas, en naywer maak die domme dood.
  • 3 Ek self het gesien hoe 'n dwaas wortel skiet; maar skielik het ek sy woning vervloek.
  • 4 Ver is sy kinders van geluk; en hulle word verbrysel in die poort sonder dat iemand red.
  • 5 Wat hy geoes het, eet die hongerige op, en dié haal dit selfs uit die doringheining uit; en die ondergang hyg na hulle rykdom.
  • 6 Want onheil kom nie voort uit die stof, en moeite spruit nie uit die grond nie.
  • 7 Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg.
  • 8 Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê,
  • 9 aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;
  • 10 wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde;
  • 11 om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
  • 12 Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie;
  • 13 wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
  • 14 Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
  • 15 So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
  • 16 So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
  • 17 Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
  • 18 Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
  • 19 In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.
  • 20 In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.
  • 21 As die tong gésel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie.
  • 22 Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie.
  • 23 Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend.
  • 24 En jy sal uitvind dat jou tent in vrede is; en as jy op jou woonplek rondkyk, sal jy niks vermis nie.
  • 25 Ook sal jy uitvind dat jou kroos talryk is en jou nakomelinge soos die plante van die aarde.
  • 26 Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos 'n koringgerf ingebring word op sy tyd.
  • 27 Kyk, dit het ons nagespeur, so is dit; hoor dit, en neem jy dit ter harte.