Job 15
  • 1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
  • 2 Sal 'n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind--
  • 3 deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie?
  • 4 Ja, jy breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God.
  • 5 Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges.
  • 6 Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou.
  • 7 Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring?
  • 8 Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek?
  • 9 Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie?
  • 10 Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader.
  • 11 Is die vertroostinge van God vir jou te min, en 'n woord met sagtheid jou toegespreek?
  • 12 Waarom sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so--
  • 13 dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?
  • 14 Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit 'n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?
  • 15 Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;
  • 16 hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!
  • 17 Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;
  • 18 wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders af oorgelewer;
  • 19 aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.
  • 20 Al sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.
  • 21 Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.
  • 22 Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.
  • 23 Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.
  • 24 Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos 'n koning wat gereed staan vir die aanval,
  • 25 omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het
  • 26 (hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde);
  • 27 omdat hy sy gesig met sy vet oordek en 'n vetlaag op sy heupe gevorm het,
  • 28 en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.
  • 29 Hy bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.
  • 30 Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.
  • 31 Laat hom nie vertrou op nietigheid nie--hy kom bedroë uit! --want nietigheid sal sy vergelding wees.
  • 32 Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie.
  • 33 Hy skud sy onryp druiwe af soos 'n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos 'n olyfboom.
  • 34 Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery.
  • 35 Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.