Job 20
  • 1 Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê:
  • 2 Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my.
  • 3 'n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my.
  • 4 Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is:
  • 5 dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir 'n oomblik?
  • 6 Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke--
  • 7 soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy?
  • 8 Soos 'n droom vlieg hy weg, sodat 'n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos 'n naggesig.
  • 9 Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.
  • 10 Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.
  • 11 Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.
  • 12 Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,
  • 13 al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte--
  • 14 tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.
  • 15 Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.
  • 16 Die gif van adders suig hy in, die tong van 'n slang maak hom dood.
  • 17 Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.
  • 18 Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.
  • 19 Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; 'n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.
  • 20 Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.
  • 21 Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.
  • 22 By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.
  • 23 Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.
  • 24 Hy sal vlug vir die ysterwapens--'n koperboog sal hom deurboor.
  • 25 Hy trek--daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!
  • 26 Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; 'n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.
  • 27 Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.
  • 28 Weggevoer word die opbrings van sy huis--goed wat wegspoel op die dag van sy toorn.
  • 29 Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.