Job 17
Afrikaans Die Heilige Bybel · 16 verses
- 1 My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my.
- 2 Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus.
- 3 Gee tog 'n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen?
- 4 Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie.
- 5 Hy wat vriende aanklaag vir 'n buitaandeel--die oë van sy kinders sal versmag.
- 6 Maar Hy het my 'n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug.
- 7 Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos 'n skaduwee.
- 8 Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand.
- 9 Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.
- 10 Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! 'n Wyse vind ek onder julle tog nie.
- 11 My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart.
- 12 Van die nag maak hulle 'n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis.
- 13 As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei,
- 14 die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster,
- 15 waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit?
- 16 Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.