Job 34
  • 1 Verder het Elíhu aangehef en gesê:
  • 2 Hoor my woorde, o wyse manne! En luister na my, u wat kennis het!
  • 3 Want die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe.
  • 4 Laat ons vir onsself uitmaak wat reg is, en onder mekaar uitvind wat goed is.
  • 5 Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my my reg ontneem.
  • 6 Ondanks my reg staan ek as leuenaar; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding!
  • 7 Waar is 'n man soos Job wat godslastering drink soos water?
  • 8 Wat in die geselskap loop van die werkers van ongeregtigheid en wandel saam met goddelose mense?
  • 9 Want hy het gesê: Dit baat 'n man niks dat hy 'n welgevalle aan God het nie.
  • 10 Daarom, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!
  • 11 Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens 'n man se wandel laat Hy hom ondervind.
  • 12 Ja waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.
  • 13 Wie het aan Hom die aarde toevertrou, en wie het die hele wêreld gegrond?
  • 14 As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek,
  • 15 dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.
  • 16 As daar dan verstand by u is, hoor dit; luister na die stem van my woorde.
  • 17 Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel?
  • 18 Durf iemand aan 'n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose!
  • 19 Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.
  • 20 In 'n oomblik sterf hulle, en in die middel van die nag word 'n volk in beroering gebring en hulle gaan onder, en die magtige word weggedryf--nie deur 'n hand nie.
  • 21 Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe.
  • 22 Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie.
  • 23 Want Hy hoef nie lank op 'n mens ag te gee, dat hy voor God in die gereg sou gaan nie.
  • 24 Hy verpletter die geweldiges sonder ondersoek en sit ander in hulle plek.
  • 25 So ken Hy dan hulle werke en werp hulle omver in die nag, sodat hulle verbrysel word.
  • 26 Hy straf hulle soos goddelose op die plek waar almal dit sien,
  • 27 omdat hulle van Hom afgewyk en op geeneen van sy weë ag gegee het nie--
  • 28 om die geroep van die arme na Hom te laat kom, en dat Hy die geroep van die ellendiges sou hoor.
  • 29 En gee Hy rus, wie durf Hom dan veroordeel? En verberg Hy die aangesig, wie kan Hom dan aanskou? --of dit al 'n nasie betref of 'n mens, almal saam;
  • 30 sodat die goddelose mense nie sal regeer, sodat hulle geen strikke vir die volk sal wees nie.
  • 31 Want sê iemand wel tot Gód: Ek boet sonder dat ek sleg handel;
  • 32 wat ek nie insien nie, leer U my dit; ás ek onreg gedoen het, ek sal dit nie meer doen nie--
  • 33 moet Hy volgens u mening tog vergelding doen? U is mos ontevrede, sodat ú moet sê wat beter is, en nie ek nie! Wat u dan weet--spreek dit uit!
  • 34 Manne van verstand sal vir my sê, en 'n wyse man wat my aanhoor:
  • 35 Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand.
  • 36 Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners.
  • 37 Want hy voeg 'n oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.