Job 18
  • 1 Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
  • 2 Hoe lank wil julle jaag agter woorde? Word verstandig, en daarna sal ons spreek.
  • 3 Waarom word ons as vee gereken, is ons dom in julle oë?
  • 4 Jy, iemand wat homself verskeur in sy toorn--sal om jou ontwil die aarde verlate wees of 'n rots uit sy plek versit word?
  • 5 Ja, die lig van die goddelose gaan dood, en die vlam van sy vuur bly nie flikker nie.
  • 6 Die lig in sy tent word duisternis, en sy lamp bo hom gaan dood.
  • 7 Sy geweldige treë word ingekort, en sy eie plan gooi hom omver.
  • 8 Want hy raak in 'n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van 'n vangkuil.
  • 9 'n Vangnet gryp sy hakskeen, 'n strik hou hom vas.
  • 10 'n Tou is vir hom verberg in die grond en 'n valstrik vir hom op die pad.
  • 11 Verskrikkinge beangstig hom aan alle kante en jaag hom so ver as hy gaan.
  • 12 Sy onheil het honger, en die ondergang staan gereed vir sy val.
  • 13 Die eersgeborene van die dood verteer die lede van sy liggaam, hy verteer sy lede.
  • 14 Weggeruk word hy uit sy tent, die voorwerp van sy vertroue; en dit laat hom aanstap na die koning van die verskrikkinge.
  • 15 Daar woon in sy tent iets wat hom nie toebehoort nie; swawel word gestrooi oor sy woning.
  • 16 Onder verdroog sy wortels, en bo verwelk sy tak.
  • 17 Sy gedagtenis vergaan van die aarde af, en hy het geen naam op die wye veld nie.
  • 18 Hulle stoot hom uit die lig in die duisternis, en uit die wêreld verjaag hulle hom.
  • 19 Hy het geen kroos of nageslag onder sy volk en niemand wat oorbly in sy wonings nie.
  • 20 Oor sy dag staan die mense van die Weste verskrik, en siddering gryp die mense van die Ooste aan.
  • 21 Sekerlik, so gaan dit met die wonings van die kwaaddoener en so met die plek van hom wat God nie ken nie.