Job 10
Afrikaans Die Heilige Bybel · 22 verses
- 1 Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
- 2 Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
- 3 Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
- 4 Het U vleeslike oë? Of sien U soos 'n mens sien?
- 5 Is u dae soos die dae van 'n mens, of u jare soos die dae van 'n man?
- 6 dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
- 7 ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
- 8 U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
- 9 Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
- 10 Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
- 11 Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
- 12 Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
- 13 Maar daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
- 14 As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
- 15 Was ek skuldig--wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
- 16 En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos 'n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
- 17 U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder--altyd nuwe leërafdelings teen my!
- 18 Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat 'n oog my gesien het.
- 19 Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
- 20 Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek 'n bietjie vrolik kan wees,
- 21 voordat ek heengaan--en nie terugkom nie--na die land van duisternis en doodskaduwee,
- 22 'n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee 'n skynsel--soos middernag!