Job 35
Afrikaans Die Heilige Bybel · 16 verses
- 1 Verder het Elíhu aangehef en gesê:
- 2 Hou u dit vir reg, noem u dit: my geregtigheid voor God,
- 3 dat u vra wat dit u baat? Wat help dit my meer as wanneer ek sou sondig?
- 4 Ék sal u antwoord gee en aan u vriende saam met u.
- 5 Kyk op na die hemel en sien, en aanskou die wolke wat hoog bo u is.
- 6 As u sondig, watter skade is dit vir Hom? En is u oortredinge baie, wat kan u Hom daarmee aandoen?
- 7 As u regverdig is, wat gee u aan Hom? Of wat kan Hy uit u hand aanneem?
- 8 U goddeloosheid raak net 'n mens soos u, en u geregtigheid 'n mensekind.
- 9 Vanweë die menigte van verdrukkinge skreeu hulle; hulle roep om hulp oor die geweld van die grotes.
- 10 Maar niemand sê nie: Waar is God, my Maker, wat lofsange gee in die nag,
- 11 wat ons meer leer as aan die diere van die aarde en ons wyser maak as die voëls van die hemel?
- 12 Dan roep hulle, maar Hy antwoord nie, vanweë die trotsheid van die kwaaddoeners.
- 13 Sekerlik, na nietige klagte luister God nie, en die Almagtige slaan daar geen ag op nie.
- 14 Hoeveel minder as u sê u sien Hom nie! Die regsaak is voor Hom: wag dan op Hom.
- 15 Maar nou, omdat sy toorn nie straf nie, en Hy nie grootliks ag gee op oormoed nie,
- 16 maak Job sy mond wyd oop in nietige gepraat, vermenigvuldig hy woorde sonder kennis.