Job 27
  • 1 En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
  • 2 So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het--
  • 3 want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus--
  • 4 my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!
  • 5 Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.
  • 6 Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.
  • 7 My vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.
  • 8 Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny--as God sy siel wegneem?
  • 9 Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?
  • 10 Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?
  • 11 Ek sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.
  • 12 Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop?
  • 13 Dít is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:
  • 14 as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.
  • 15 Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie.
  • 16 As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder--
  • 17 hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.
  • 18 Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak.
  • 19 Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en--is nie meer nie.
  • 20 Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg.
  • 21 Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.
  • 22 En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.
  • 23 Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.