Job 41
  • 1 Niemand is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?
  • 2 Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.
  • 3 Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie.
  • 4 Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit--wie kan daarin deurdring?
  • 5 Die deure van sy gesig--wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking.
  • 6 'n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met 'n vaste seël.
  • 7 Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie.
  • 8 Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.
  • 9 Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad.
  • 10 Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.
  • 11 Uit sy neusgate kom rook, soos uit 'n kokende pot met biesiesvuur daarby.
  • 12 Sy asem laat kole ontvlam, en 'n vlam gaan uit sy mond.
  • 13 In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis.
  • 14 Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik.
  • 15 Sy hart is hard soos 'n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen.
  • 16 As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself.
  • 17 Raak iemand hom met die swaard--dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie.
  • 18 Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het.
  • 19 Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels.
  • 20 Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans.
  • 21 Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei 'n ware dorsslee uit op die modder.
  • 22 Hy laat die diepte kook soos 'n pot; die waterplas maak by soos 'n kokende salfpot.
  • 23 Agter hom verlig hy die pad: 'n mens sou die watervloed aansien vir grys hare.
  • 24 Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees.
  • 25 Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere.