Job 6
  • 1 Maar Job het geantwoord en gesê:
  • 2 Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in 'n skaal opgehef!
  • 3 Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam.
  • 4 Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op.
  • 5 Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk 'n bees by sy voer?
  • 6 Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van 'n eier?
  • 7 My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys.
  • 8 Ag, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee!
  • 9 En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!
  • 10 Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie.
  • 11 Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees?
  • 12 Is my krag 'n krag van klip of my vlees van koper?
  • 13 Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie?
  • 14 Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.
  • 15 My broers het troueloos gehandel soos 'n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop,
  • 16 wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg--
  • 17 in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.
  • 18 Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan.
  • 19 Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag.
  • 20 Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld.
  • 21 So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees.
  • 22 Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my 'n omkoopgeskenk uit julle vermoë?
  • 23 Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne?
  • 24 Onderrig my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het.
  • 25 Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig 'n bestraffing uit, van julle afkomstig?
  • 26 Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van 'n wanhopige is vir die wind!
  • 27 Ja, julle sou 'n wees uitloot en julle vriend verhandel.
  • 28 Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie.
  • 29 Keer tog terug--laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug--nóg is my geregtigheid daar.
  • 30 Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie?