Job 22
Afrikaans Die Heilige Bybel · 30 verses
- 1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
- 2 Kan 'n man aan God 'n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige 'n diens.
- 3 Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?
- 4 Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?
- 5 Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?
- 6 Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.
- 7 Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.
- 8 Maar aan die man van geweld--aan hom behoort die land; en die aansienlike--hy moet daarin woon!
- 9 Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
- 10 Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.
- 11 Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
- 12 Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.
- 13 Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?
- 14 Wolke is 'n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.
- 15 Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,
- 16 wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos 'n stroom,
- 17 wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?
- 18 En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. (Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
- 19 Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:
- 20 Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.
- 21 Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.
- 22 Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.
- 23 As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.
- 24 En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.
- 25 Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
- 26 Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.
- 27 Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.
- 28 Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn 'n lig.
- 29 As dié afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.
- 30 Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.