Job 32
  • 1 Toe het dié drie manne opgehou om Job te antwoord, omdat hy in sy eie oë regverdig was.
  • 2 En die toorn van Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, uit die geslag van Ram, het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God.
  • 3 Sy toorn het ook ontvlam teen sy drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en Job veroordeel het.
  • 4 Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy.
  • 5 Maar toe Elíhu sien dat daar geen antwoord was in die mond van die drie manne nie, het sy toorn ontvlam.
  • 6 En Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel.
  • 7 Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee.
  • 8 Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak.
  • 9 Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie.
  • 10 Daarom sê ek: Luister na my; ek wil ook my kennis meedeel.
  • 11 Kyk, ek het gewag op u woorde; ek wou luister na verstandige taal van u, totdat u die regte woorde uitgevind het.
  • 12 En ek het op u ag gegee; maar kyk: daar was niemand wat Job weerlê het nie, niemand van u wat sy woorde beantwoord het nie.
  • 13 Sê maar net nie: Ons het wysheid aangetref, God alleen kan hom verslaan, geen mens nie.
  • 14 Teen my tog het hy geen woorde ingebring nie; en met u redeneringe sal ek hom nie beantwoord nie.
  • 15 Hulle staan verslae; hulle antwoord nie meer nie; die woorde laat hulle in die steek.
  • 16 Sal ek dan wag, omdat hulle nie spreek nie, omdat hulle daar staan sonder antwoord?
  • 17 Ek wil ook my deel antwoord; ek wil ook my kennis meedeel.
  • 18 Want ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my.
  • 19 Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars.
  • 20 Ek wil spreek om lug te kry, my lippe oopmaak en antwoord gee.
  • 21 Ek wil nie partydig wees nie; en 'n mens vlei, sal ek nie.
  • 22 Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem!