Job 7
Afrikaans Die Heilige Bybel · 21 verses
- 1 Het die mens nie 'n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van 'n dagloner nie?
- 2 Soos 'n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos 'n dagloner wat wag op sy werkloon,
- 3 so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.
- 4 As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.
- 5 My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.
- 6 My dae is vinniger as 'n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.
- 7 Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.
- 8 Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my--en ek is daar nie!
- 9 Die wolk verdwyn en gaan heen--so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.
- 10 Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.
- 11 So wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel.
- 12 Is ek 'n see, of 'n groot seedier, dat U 'n wag teen my opstel?
- 13 As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra,
- 14 dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte,
- 15 sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my.
- 16 Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid.
- 17 Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?
- 18 En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?
- 19 Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk?
- 20 As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot 'n las is?
- 21 En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie.