Job 36
  • 1 En Elíhu het voortgegaan en gesê:
  • 2 Wag 'n bietjie op my, en ek sal u inlig; want daar is nog genoeg te sê tot eer van God.
  • 3 Ek sal my kennis van ver af ophaal en aan my Skepper reg verskaf.
  • 4 Want waarlik, my woorde is geen leuens nie; een wat volkome is in kennis, is by u.
  • 5 Kyk, God is geweldig, nogtans ag Hy niks gering nie--geweldig deur krag van verstand.
  • 6 Hy laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg.
  • 7 Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, maar by konings op die troon laat Hy hulle sit vir altyd, sodat hulle verhoog is.
  • 8 Maar as hulle in kettings geklink is, gevang word in bande van ellende,
  • 9 dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hul gedrag hoogmoedig was;
  • 10 dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid.
  • 11 As hulle luister en Hom dien, dan bring hulle hul dae deur in voorspoed en hul jare in aangenaamheid.
  • 12 Maar as hulle nie luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas die asem uit sonder kennis.
  • 13 Maar die goddelose van hart koester nyd; hulle roep nie om hulp as Hy hulle bind nie.
  • 14 So sterwe dan hulle siel in die jeug en hulle lewe soos dié van skandseuns.
  • 15 Hy red die ellendige deur sy ellende en open hulle oor deur verdrukking.
  • 16 So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na 'n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys.
  • 17 Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp.
  • 18 Want pas op dat woede u nie verlok by die bestraffing en die grootheid van die losprys u nie verlei nie.
  • 19 Sal Hy u geroep om hulp voorbring waar daar geen nood is nie, en alle moontlike kragsinspanning van u?
  • 20 Smag nie na die oordeelsnag wat volke wegneem uit hulle plek nie.
  • 21 Neem u in ag, wend u nie tot ongeregtigheid nie; want dit verkies u liewer as ellende.
  • 22 Kyk, God handel verhewe in sy krag; wie is 'n leermeester soos Hy?
  • 23 Wie het Hom sy weg voorgeskrywe? En wie het gesê: U het onreg gedoen?
  • 24 Dink daaraan dat u sy werk moet verheerlik waar die mense van sing.
  • 25 Al die mense sien dit met welgevalle aan, die sterfling aanskou dit van ver.
  • 26 Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.
  • 27 Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën
  • 28 wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense.
  • 29 Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut?
  • 30 Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy.
  • 31 Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed.
  • 32 Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller.
  • 33 Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek.