Psalms 108
Afrikaans Die Heilige Bybel · 14 verses
- 1 'n Lied. 'n Psalm van Dawid.
- 2 My hart is gerus, o God! Ek wil sing en psalmsing, ja, ook my eer.
- 3 Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak.
- 4 Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot u eer, onder die nasies;
- 5 want u goedertierenheid is groot bo die hemel uit en u trou tot by die wolke.
- 6 Verhef U bo die hemele, o God, en u heerlikheid bo die hele aarde!
- 7 Dat u bemindes gered kan word- verlos deur u regterhand en verhoor ons!
- 8 God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.
- 9 Gílead is myne, Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.
- 10 Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; oor Filistéa jubel Ek.
- 11 Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie lei my tot in Edom?
- 12 Het U, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.
- 13 Gee ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is vergeefse moeite.
- 14 In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.